|
ROSE VAN PIKARDIË
"ROSES OF PICARDY"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
By die populiere wag sy, Colinette met haar oë so blou.
Sy verlang en sy staar in die verte, waar die pad teen die rantjie hou.
Soos die wind ruis deur die blare, klink 'n lied wonderskoon en nuut.
En sy luister verdwaas en sy bewe. Dis die heel eerste liefdeslied: |
|
Refrein: |
|
“Rose blink daar in Pikardië, in die stilte met pêrels van dou.
Rose bloei daar in Pikardië en my hart bly verlang na jou.
En die rose sal saam met die somer sterf en al is ek so ver weg van jou,
sterf daar een roos nooit daar in Pikardië,
dis die roos wat ek in my hart hou!” |
|
En die jare bly verbygaan totdat hul lewensdrang verflou.
Hy hou so graag haar hande in syne wyl hy kyk in haar oë so blou.
En sy sien die populiere, en soet klank val weer op haar oor,
want die heel eerste lied van die rose, is die laaste lied wat sy hoor: |
|
Refrein: |
|
“Rose blink daar in Pikardië, in die stilte met pêrels van dou.
Rose bloei daar in Pikardië en my hart bly verlang na jou.
En die rose sal saam met die somer sterf en al is ek so ver weg van jou,
sterf daar een roos nooit daar in Pikardië,
dis die roos wat ek in my hart hou!” |
|
|
|
"SANTA LUCIA"
NAPOLITAANSE DONGELLIED
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Sag oor die feëland skyn maanlig stralend.
Naby die silwerstrand vaar my boot dralend.
In die mooi somernag klink soete snare.
Windjies die ritsel sag deur blom en blare.
Ek hoor ’n liedjie nou fluister: “Ek’s lief vir jou,
Santa Lucia, Santa Lucia.”
Ek hoor ’n liedjie nou fluister: “Ek’s lief vir jou,
Santa Lucia, Santa Lucia.” |
|
Saam met die aardse prag skitter die sterre.
Soet klink daar helder lag iewers van verre.
O skone Napoli, bron van veel vreugde,
sieraad vol harmonie, plek van mooi deugde.
Jou beeld sal nooit verflou. Ek sal jou steeds onthou,
Santa Lucia, Santa Lucia.
Jou beeld sal nooit verflou. Ek sal jou steeds onthou,
Santa Lucia, Santa Lucia. |
|
|
|
SERENADE UIT DIE
"STUDENTEPRINS"
"SERENADE FROM THE STUDENT PRINCE"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Wit soos bloeisels aan die bome
val die maan se strale sag.
Niks word gehoor net 'n lied wat bekoor
van ’n nagtegaal se drome.
Kon my hart sy klop versag,
sou jy alleen dit kon vermag.
My liefling, van jou venster groet my tog nou!
Ek bly jou ewig trou. |
|
Sag deur die bome weerklink my hartsverlange
wyl my soet drome, my liefling, jou omring ] Koor: Gans betower, deur
jou verower.
My siel, my vreug – my hoop, my vrees
Jou hart weet dat ek by jou wil wees!
Glo asseblief ek het jou o so lief
en my liefde vir jou sal nooit kwyn.
Bemin my o ek smeek:
Moet my hart tog nie breek! ] Koor: Min my!. |
|
Wit soos bloeisels aan die bome
val die maan se strale sag.
Niks word gehoor net 'n lied wat bekoor
van ’n nagtegaal se drome.
Kon my hart sy klop versag, sou
jy alleen dit kon vermag.
My liefling, van jou venster groet my tog nou!
Ek bly ewig lief vir jou. |
|
|
|
SLAAP SAG, HARTEDIEF
(Kreoolse wegelied)
"AY AY AY"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Slaap sag, hartedief, slaap sag, doe-doe-doe
en maak jou mooi ogies styf toe.
Slaap sag, hartedief, slaap sag, doe-doe-doe
en maak jou mooi ogies styf toe.
Ontwaak jy weer, kindjie van my,
laat jy my weer nuwe moed kry.
Ontwaak jy o kind van my, doe-doe-doe,
laat jy my weer nuwe moed kry. |
|
Droom soet, hartedief, droom soet, doe-doe-doe.
Jou vader is weg tot nou toe.
Droom soet, hartedief, droom soet, doe-doe-doe,
jou vader is weg tot nou toe.
Hy’s weg en hy sal ons nooit mis;
Vergeet van ons waar hy nou is.
Hy’s weg en sal ons nooit mis, doe-doe-doe,
Vergeet van ons waar hy nou is. |
|
|
|
SOEN MY TOG WEER
"KISS ME AGAIN"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Soel windjies suis, lower wat ruis,
Velde deur maanlig gekus;
Rose in fleur sprei soete geur,
voëltjies sag dromend in rus.
Die nag met jou sal ek onthou,
Liefde so innig en teer.
Druk my soos nou altyd teen jou.
Soen my, soen my tog weer.
Soen my tog weer,
Soen my, soen my tog weer. |
|
|
|
VRA NIE WAAROM EK GAAN NIE
"FRAG NICHT, WARUM ICH GEHE"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Refrein: |
|
Vra nie waarom ek gaan nie, vra nie waarom!
Jy sal tog nie verstaan nie, vra nie waarom!
Nie meer kan ek aan jou sê: ek het jou lief
en tog was jy eenmaal my goue sonstraal.
Geen tyd om te verwyl nie, vra nie waarom!
Vra nie waarom ek huil nie, vra nie waarom!
Ons gaan nou van elkander, môre soen jy 'n ander,
dan sal jy nie meer vra nie, waarom! |
|
Die lied is stil wat jy vir my gesing het.
Toe dit verstom, het daar net leed gekom.
Die lied is stil wat my eens soet omring het.
Niks bly van die musiek meer oor
as eggo’s van ons liefde.
Van rose eens aan my so gul,
bly net 'n gerf, dor, opgekrul.
Die lied is stil. |
|
Vra nie waarom ek gaan nie, vra nie waarom!
Jy sal tog nie verstaan nie, vra nie waarom!
Nie meer kan ek aan jou sê: ek het jou lief
en tog was jy eenmaal my goue sonstraal.
Geen tyd om te verwyl nie, vra nie waarom!
Vra nie waarom ek huil nie, vra nie waarom!
Ons gaan nou van elkander, môre soen jy 'n ander,
dan sal jy nie meer vra nie, waarom! |
|
|
|
TOE MY OUPA TWINTIG WAS
"WIE MEIN AHNL ZWANZIG JAHR"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Toe my oupa twintig was en ’n goeie wildskut was,
vra hy op ’n maanligaand sy mooi Liesl om haar hand.
Toe hul soen, sing in die dal, wonderskoon ’n nagtegaal.
Wat die tyd hul ook sou bring, die twee sou dikwels sing: |
|
Refrein: |
|
Nog ’n maal, nog ’n maal, nog ’n maal
sing o sing, nagtegaal.
Nog ’n maal, nog ’n maal, nog ’n maal
soos jy gesing het in die dal. |
|
Toe my oupa sew’ntig was en ’n kruiekweker was,
het hy eenkeer by die vlei ’n mooi nooi te sien gekry.
Hy’t gesug en fluister hees: Waar sal Liesl nou tog wees?
Maar hy dink toe aan sy jeug en sing weer eens met vreug: |
|
Opmerking: Die naam “Liesl” is gebruik omdat “Reserl”,
soos in die Duitse teks by ons totaal onbekend is. |
|
|
|
TOT WEDERSIENS, MY LIEF
"AUF WIEDERSEHEN, MEIN LIEB"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
In Wenen het twee harte in liefde saam gedroom
vol vreugde sonder smarte onder 'n lindeboom.
Die dag van afskeid kom daar
en met 'n seer hart sê hy aan haar: |
|
Refrein: |
|
Kom stap tog saam my liefling, fraai
na waar die boswind saggies waai.
Daar sê ons dan tot wedersiens,
tot wedersiens my lief.
As ek jou in my arms hou
o waarom moet ek gaan van jou.
Tog moet ek sê tot wedersiens,
tot wedersiens, my lief.
Wanneer jou moed soms sink
en jy voel so eensaam,
sal ek steeds aan jou dink
deur elke dag wat traag verbygaan.
En waai die lentewinde weer,
sal ek na jou, my lief, terugkeer.
Ons sê nooit weer tot wedersiens,
tot wedersiens, my lief. |
|
|
|
TWEE HARTE IN DRIESLAGMAAT
"ZWEI HERZEN IM DREIVIERTEL TAKT"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
In droomland het ons laas nag gedans
op walsmaat in die volmaan se glans.
Deur blom en lower se geur betower.
O skone nag in lenteprag.
Die sterre het geglinster daarbo.
Veel mooier was die glans in jou oë
En dan die ruising, die bons, die bruising
van harte saam in drieslagmaat. |
|
Refrein: |
|
Twee harte klop op drieslagmaat
so polsend in 'n walsmelodie
Twee harte klop op drieslagmaat
volmaak in harmonie.
Een maat is lente en een maat is wyn.
Een maat is liefde so innig so rein.
Ons liefde en ons diepe trou
sal ons harte op walsmaat hou. |
|
|
|
WALS VAN MY HART
"WALTZ OF MY HEART"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Refrein: |
|
Die leeurik sing weer so bly
Ver uit die helderblou lug.
Die wintertyd is nou verby,
die lieflike lente terug.
Geen storms wat ons kan skei
of kwellings oor pyn of smart.
Geen hartseer verdring die betowering
van die wals in my hart. |
|
Wals van my hart, vrolik bly jy
so vol bekoring, so walsend om my.
Klawers van ebbehout en van ivoor
laat tog jul melodie my hart bekoor.
Snare van goud tril in die lug.
Wyl jul my so besiel, gaan tyd so vlug.
Vreugde ontbrand in my – geen sweem van smart
Speel jul die wals, wals van my hart. |
|
Refrein: |
|
Die leeurik sing weer so bly
Ver uit die helderblou lug.
Die wintertyd is nou verby,
die lieflike lente terug.
Geen storms wat ons kan skei
of kwellings oor pyn of smart.
Geen hartseer verdring die betowering
van die wals in my hart. |
|
|
|
WEENSE FIAKERLIED
"WIENER FIAKERLIED"
van Gustaf Pick
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Ek het twee mooi swart perde wat fluks my rytuig trek.
Hul draf altyd so swierig en lyk so opgewek.
'n Peits is gans onnodig; dit sal hul net ontstel.
Jy sê net tsp-tsp en die twee sal gou die pas versnel.
Van Graben tot by Lusthaus bly ek in vol beheer.
Die perde gaan nooit op galop, hul hoewe val net klop-klop-klop.
Ek weet waarom hul so draf, want ek het hul geleer.
As 'n fiaker weet ek hoe om perde te hanteer.
Koetsiers kan jy wel oral kry, wyl fiakers net in Wenen ry. |
|
Refrein: |
|
My trots, is ek is so 'n eg-Weense kind,
fiaker, soos mens glad nie elke dag vind.
Ek is altyd vrolik, so vry soos die wind.
Ek is mos 'n eg-Weense kind. |
|
Ek’s byna sestig jaar oud; veertig in my beroep.
Ek met my kar en perde is so 'n hegte groep.
Wanneer ek eendag sterwe en hul begrawe my,
moet my twee flukse perde eers, met my na Graben ry.
Van daar laat skiet die leisels en moet hul glad nie keer.
Hul moet draf as hul graf toe gaan; ag asseblief tog nie tydsaam.
Ry kruis en dwars oor strate in esse heen en weer,
Dit is onwettig maar dit is presies wat ek begeer.
Luister tog mooi, dit is vernaam. Op my grafsteen moet daar duid’lik staan: |
|
2de
Refrein: |
|
Sy trots was hy was so 'n eg-Weense kind,
fiaker soos mens glad nie elke dag vind.
Hy was altyd vrolik, so vry soos die wind.
Hy was mos 'n eg-Weense kind. |
|
Opmerking:
Die vertaling van hierdie pragtige lied in Afrikaans is moontlik gemaak deur die vriendelike hulp van Prof. Japie Human van Bloemfontein, wat die bladmusiek uit Wenen bestel het en die betekenis van die oorspronklike Weense dialek van 1885 van sy vriendin, Beate Hittinger, wat naby Wenen woon, gekry het. My innige dank aan albei van hulle vir hul hulp en moeite.
Thomas. C. Ellis |
|
'n Fiaker in Wenen, is die drywer van 'n oop perderytuig wat mense teen vergoeding in die stad vervoer. Die woord “fiaker” is onvertaalbaar en word net soos in die Duits, gebruik. Die aansporing vir die perde om vinniger te hardloop nl.”tsp-stp” is 'n suigklank wat aan die een kant van die mond gevorm word. As u probleme daarmee het, vra van die ouer garde boere om u te help. In die Duits word dit net soos by ons gebruik. |
|
|
|
WENEN, DIE STAD VAN MY DROME
"WIEN, DU STADT MEINER TRÄUME"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
O Wenen, vir jou klop my hart nooit flou.
Met jou kan ek ween, kan ek lag.
In jou is my huis, by jou voel ek tuis
by dag en veel meer nog by nag.
Jy laat niemand koud, nie jonk nie, nie oud
is jy aan hul eenmaal bekend.
Moet ek eendag voort van dié skone oord
kry al my verlange nooit end. |
|
Refrein: |
|
Dan hoor ek van ver ’n strelende lied,
’n melodie vol harmonie:
Wenen, net jy net jy
sal steeds die stad van my drome bly.
Daar waar die mooi ou wonings staan
waarheen die lieflikste nooientjies gaan.
Wenen, net jy, net jy
sal steeds die stad van my drome bly.
Daar waar ek liefde, waar ek vreugde kry,
is Wenen, Wenen, jy! |
|
Ek wil nimmer weg, my liefde bly heg
en tog sal ek eendag moet gaan.
’n Skeiding vol pyn van liefde en wyn,
want alles wat is, bly nooit staan.
Tog mooi sal dit wees, ek gaan dan in gees
en sweef na die hemel so blou.
Daarbo neem ek plaas, groet Wenen vir laas –
My droomstad vir altyd soos nou. |
|
|
|
WIEGELIED VAN JOCELYN
"BERCEUSE DE JOCELYN"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Hier onder groene loof kom skuiling nou oplaas
en droefheid kom tot rus of sweef weg in 'n waas.
Sag val die maan se strale, wat rondom haar dans
daar waar sy rustig slaap en droom in helder sterglans. |
|
Refrein: |
|
Slaap soet, my lief, slaap onverpoos.
'n Fraaie engel sweef hier eenkant
en weef 'n web van goud en roos
waarmee jy sag gedra sal word in droomland.
Slaap, slaap, so ver lê nog die dag.
Eng’le waak hier oor jou heel die nag. |
|
Ver van die groot gedruis bring voëlsang jou tot rus
en saggies suis die bries wyl hy die lower sus.
In hierdie nag ken jy geen hartseer en geen vrees.
Ag mag vreugde en soet geluk altyd jou deel wees. |
|
|
|
WOLGALIED
Uit
"DER ZAREWITSCH" van Franz Lehár
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Alleen, weer so alleen.
Eensaam soos altyd en vlietend bruis die jeugdigheid
na lange, bange eensaamheid.
My hart is seer, my denke flou,
ek voel gevange in 'n kou. |
|
Daar staan 'n soldaat by die Wolgastrand.
Hou wag daar vir sy vaderland.
In donker nag alleen en ver
skyn daar vir hom geen maan of ster.
Roerloos bly die Steppe stom
wyl daar trane in sy oë kom.
En hy voel swaar die las wat hy moet dra -
van sy groot verlatenheid en hy kla en hy vra: |
|
Het U daarbo dan van my hier vergeet?
My hart smag na liefde, o Heer U weet.
U’t soveel eng’le daarbo aan U sy.
Stuur tog een van hul af hier na my! |
|
U’t soveel eng’le daarbo aan U sy.
Stuur tog een van hul af hier na my! |
|
|
SAL JY MY BLY LIEFHÊ
"WILL YOU REMEMBER"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Refrein: |
|
Liefling, liefling, liefling,
sal jy my bly liefhê
en hierdie dag saam met jou
met al sy vreugde onthou,
my hartedief!
Liefling, liefling, liefling,
moet ons dalk uiteengaan –
Totdat die lewensbaan
eindig dink steeds aan
hierdie lentedag,
liefde lenteprag. (Slegs 2de maal) |
|
O liefde is soet in die lente,
die geurige bloeisels ’n prag.
Al kom met die tyd dalk ellende
vergeet ek, lief, nimmer dié dag.
Ek min tot in lengte van dae
jou net soos op hierdie mooi dag.
My hart sal onthou deur die jare
die tinteling wat lente bring. |
|
|
|
SAMBRELE IN DIE REËN
"THE UMBRELLA MAN"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Tippe-tappe-tappe, tippe-tappe-tappe, sag val die reën.
Tippe-tappe-tappe, tippe-tappe-tappe, rondom ons heen.
Onder ons sambrele dans ons vrolik in die reën
wyl die donder net soos tromme vêr weg dreun.
So trippe-trappe-trappe, trippe-trappe-trappe dans ons tesaam.
Trippe-trappe-trappe, trippe-trappe-trappe af in die laan.
Geen hartseer of kommer sal jul by ons kry.
Met ons trippe-trappe-trappe-dansery
raak ons gou van al die kommer vry
totdat daar net vreugde in ons harte bly. |
|
|
|
SEEMEEU, JY VLIEG NA DIE HEIMAT
"MOWE DU FLIEGST IN DIE HEIMAT"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Seemeeu, jy vlieg na die heimat (uitspr. haimat)
Groet almal hartlik vir my.
Neem al my soete gedagtes saam na die huis waar ek bly.
Ek volg jou vlug vol verlange tot jy verdwyn in die lug.
Na die onstuimige dae, keer ek weer eendag terug
Seemeeu, jy vlieg na die heimat,
tuiste van ware geluk. |
|
Dag vir dag, nag vir nag,
vaar 'n eensame skip oor die meer.
Niemand slaap, almal wag,
Want die hart so vol heimwee bly seer. |
|
Seemeeu, jy vlieg na die heimat
Groet almal hartlik vir my.
Neem al my soete gedagtes saam na die huis waar ek bly.
Ek volg jou vlug vol verlange tot jy verdwyn in die lug.
Na die onstuimige dae, keer ek weer eendag terug
Seemeeu, jy vlieg na die heimat,
tuiste van ware geluk. |
|
Dag vir dag, nag vir nag,
vaar 'n eensame skip oor die meer.
Niemand slaap, almal wag,
Want die hart so vol heimwee bly seer. |
|
Seemeeu, jy vlieg na die heimat ...
ens. (finaal) |
|
|
|
SKENK MENSE ROSE AAN MEKAAR
"SCHENKT MAN SICH ROSEN IN TIROL"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Adam: |
|
Skenk mense rose aan mekaar
word in Tirool altyd aanvaar,
dat jy nie slegs die rose gee
jy skenk jouself ook saam daarmee.
Sien jy dit so, weet ek verstaan jy.
Sien jy dit so, my liefste, sê my.
Sien jy dit so, maak tog my hart bly
en skenk jou met die rose^aan my. |
|
Keurvorstin: |
Skenk mense rose aan mekaar ]
word in Tirool veel meer aanvaar, ]
maar dié gebruik geld nie ons twee ]
Rose alleen het ek gegee. ]
Dalk bring ek tog geluk vir jou. ]
Jy kan my rose aan jou dus hou. ]
Ja die rose kan jy kry, ]
maar die rose sonder my. ] |
Word saam gesing. |
|
|
|
Skenk mense rose aan mekaar ]
word in Tirool altyd aanvaar, ]
dat jy nie slegs die rose gee ]
jy skenk jouself ook daarmee. ]
Daar wag geluk op ons nou ]
as jy dit ook so beskou. ]
Ja, ja, die rose is vir my, ]
maar jy’s ook daarby. ] |
Word saam gesing. |
|
|
|
|
SO 'N HEER SOOS JY
"MEIN HERR MARQUIS"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
So 'n heer soos jy, 'n markies daarby
van dames moet jy tog meer weet.
Ek het raad vir jou, jy moet baie gou
jou kennis oor hul verbreed.
Dié hand is verseker so fyn, ha, ha, ha.
Dié voete so sierlik en klein, ha, ha, ha.
My taalgebruik en frases, kenmerkend van my status,
vind jy nie sommer nie by net ‘n diensmeisie,
vind jy nie sommer nie by net ‘n diensmeisie.
Jy moet erken, ja sonder meer, heel komies is jou fout, my heer.
Ja heel komies, ha, ha, ha, stel dit bra sag, ha, ha, ha.
So verskoon tog, ha, ha, ha, as ek so lag, ha, ha, ha, ha, ha, ha!
Ja, heel komies, ha, ha, ha, stel dit bra sag, ha, ha, ha! Ha, ha, ha.
Heel komies, heer markies is jy. |
|
My profiel beslis Grieks in styl, die is,
geskenk aan my deur die natuur.
As my mooi gelaat jou nie spraakloos laat,
kyk dan na my mooi figuur.
Kyk jy deur jou handbril sien jy, a,
die swierige aanddrag van my, a.
Jou diensmeisie, foeitog, bemin jy met hartstog.
Haar skone beeld het jou sowaar betower.
Sy het jou hart geheel en al verower.
Nou lyk elk vrou vir jou soos sy.
Heel komies is die saak vir my
Ja, heel komies, ha, ha, ha, stel dit bra sag, ha, ha, ha.
So verskoon tog, ha, ha, ha, as ek so lag, ha, ha, ha, ha, ha, ha!
Ja, heel komies, ha, ha, ha, stel dit bra sag, ha, ha, ha. Ha, ha, ha ha! |
|
|
|
TERWYL IN 'N GEURIGE BLOMTUIN
"DA DRAUSSEN IM DUFTIGEN GARTEN"
uit "Ein Walzertraum" van Oscar Straus
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Terwyl in 'n geurige blomtuin, verruklik en so feëriek,
hoor ek die verlokkende klanke van die lieflikste Weense musiek.
Dit was 'n bekoorlike wysie, musiek wat die hartsnare raak.
Meesleurend en op Weense walsmaat wat strelend die siel laat ontwaak.
'n Sug en 'n smeeklied vol klae, 'n lag en 'n traan tegelyk.
'n Lied uit die goeie ou dae ontsluit vir my die hemelryk. |
|
Refrein: |
|
Saggies, heel saggies ver deur die ruim,
klink daar 'n droomwals, strelend en rein.
Vol soete deernis, 'n tere koor
wat die hart so sag en so salig deurboor
Wals en verlange, hoop, lewenslus,
vreugde en drange, soos liefde is.
Ek wil nog lewe op so 'n dag.
Weer in die lente met al sy prag.
Liefhê en lewe op so 'n dag.
Weer in die lente met al sy prag. |
|
Laat almal nou lag, sing en jubel, bevry van die laste wat druk
deur vloeiende walse en wysies en van heimlike vuur en geluk
Kom laat ons die oë sag toemaak die goue tyd weer laat herleef.
en weer al die louter geluk smaak, wyl ons so op walsmaat bly sweef.
Ons sweef na 'n heimlike oord waar, die lewe ons beter geval.
Daar waar Weense walse en wysies, weerklink deur die ganse heelal. |
|
|
|
TWEE SPROKIESOË
"ZWEI MÄRCHENAUGEN"
uit die operette "Die Sirkusprinses"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Weer eens terug in die helder lig.
Weer eens terug met blye gesig.
Skril met jou nargesig, spierwit ingekleur,
wys jy jou kuns, want jy maak geld daardeur.
Jy is 'n goëlaar, 'n komiese man.
Doen nou jou goëlkuns soos jy alleen kan.
Doen jy dit reg, sal daar applous op jou wag.
Faal net en jy word uitgelag.
Nou nog hier, môre daar, jy moet maar aan.
Nou nog hier, môre daar, wie stort 'n traan?
Reik geluk jou die hand, gryp dit aan, komediant,
gryp dit aan, komediant, gryp dit.
Reik geluk jou die hand, gryp dit aan, komediant,
gryp dit aan, komediant, gryp dit. |
|
1. As mens die lewe deur 'n wynglas stil betrag het,
sien jy in strale uit goue bokale,
die wonderbeeld waarna jy reeds so lank gesmag het,
die skone wese waarvan jy droom,
en skielik kom daar uit die glas se boom: |
|
Refrein: |
|
Twee sprokiesoë soos die sterre subliem,
twee sprokiesoë deur my eenmaal gesien.
Kan nooit vergeet nie, hulle stralende blik,
kon glad nie meet nie al my diepe geluk.
Jy, droom van liefde, was daar eenmaal vir my.
Jy, droom van blydskap het 'n droom net gebly.
Jy, skone drogbeeld, my genot en my las.
Jy, soete sprokie wat eenmaal wel was. |
|
2. Sou mens die harlekyn van sy geluk berowe
wie sal sy leed dra, by wie sal hy kla?
In die arena waar sy toertjies pret belowe,
dra hy 'n masker, sy hart verbloem,
verberg sy leed, vergeet wat hy daar doen. |
|
|
|
TWEE OË SAG
"SMILIN’ THROUGH"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Daar’s 'n klein bruin ou paadjie wat lei oor die rand
na 'n wit huisie waar in sy bly.
Daar’s 'n groen hekkie daar
waar ek stil wag op haar
tot twee oë sag
kom strelend lag
met my! |
|
Daar is silwer in hare, eens glansend en bruin,
want die jeug kan vir altyd nie bly.
Maar deur jare reeds heen
helder sonskyn of reën
het twee oë sag
bly strelend lag
met my! |
|
As sy gaan en ek moet hier alleen agterbly,
sal ek wag op die roepstem na my.
As ek aankom daarbo
en ek open my oë,
sal twee oë sag
weer strelend lag
met my! |
|
|
|
WEENSE BLOED
"WIENER BLUT"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
In Wenen, in die ver verlede het die ganse wêreld saamgekom.
Die liefde was gereeld 'n gas en daar was vrolikheid alom.
Wenen mooi, Wenen oud, Wenen op sy beste somtyds koud.
Jy was bly, want mens kry altyd iewers tog 'n warm plekkie waar
jy en jou skat jul snoesig saam kon skaar,
verlief sou soen; ons doen dit steeds nog goed,
want ewig bly dit in ons bloed. |
|
Refrein: |
|
Weense bloed, Weense bloed, so fisiek, maar uniek en so goed.
Net soos wyn, sonneskyn en so bruisend en altyd vol gloed.
Dit gee krag daardie dag as mens voel jy verloor alle moed.
Vrolikheid al die tyd, dit is in alle Weners se bloed |
|
Waar huil 'n mens met net een oog en lag dan met die ander tegelyk?
Waar voel mens na die derde glasie jy is in die hemelryk?
Wenen bly jou bekoor, nêrens sal jy mooier klanke hoor.
Ook geen stad kry mens wat soos van ouds gebly het in sy vrolikheid
al kom daar soms ook sorge met die tyd.
Jy weet dit gaan wel later tog weer goed;
dit kom alleen deur Weense bloed. |
|
|
|
WEES NIE KWAAD NIE
"SEI NICHT BÖS"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Daar in die meule langs die stroom het die jong meulenares gewoon.
Daar was ’n visserman, maar sy het weens haar hoogmoed hom vermy.
Een nag kom hy daar by haar aan. Klop saggies en pleit aangedaan:
“Maak vir my oop, behoort aan my!”
Spottenderwys sê sy: |
|
Refrein: |
|
“Wees nie kwaad nie, dit het geen sin.
Wees nie kwaad nie berus jou daarin.
Ek deel nooit jou lief en jou leed,
maar sal jy, maar sal jy my nooit vergeet!” |
|
Wees nie kwaad nie
ek deel nooit
jou lief en leed, maar sal jy,
maar sal jy my nooit vergeet! |
|
Sy’s met haar trots die wêreld in. Dit het haar geen geluk gebring.
Sy is die meulenares nou weer, maar van haar trots is daar niks meer.
Een nag terwyl die visserman, weer daarlangs gaan om vis te vang
roep sy: “Vertroos my, kom na my!”
Maar met ’n lag sê hy: |
|
Refrein: |
|
“Wees nie kwaad nie, dit het geen sin.
Wees nie kwaad nie berus jou daarin.
Ek deel nooit jou lief en jou leed,
maar sal jy, maar sal jy my nooit vergeet!” ens. |
|
|
|
WENEN WORD SNAGS
ÉÉRS MOOI
"WIEN WIRD BEI NACHT ERST SCHÖN"
Afrikaanse woorde deur Thomas C. Ellis |
|
Is daar soms kritiek oor ons mooi Weense stad
van te min vervoer wat jou laat tuisbly.
Ook dat jy die dag soms moeilik omkry,
klagtes wat sowaar nooit end kry.
Dan sê ek dis waar, jul het dit tog wel reg,
maar laat dit in Wenen jul nie keer nie.
Iets bedags nie reg, steek Wenen snags goed weg,
want Wenen stel jou snags nooit ooit teleur nie. |
|
Refrein: |
|
Wenen, word snags eers mooi as sy liggies jou nooi.
Paartjies hier en daar, sonder woorde, wandel droomverlore.
Wenen sal hul nooit grief, hy maak hul meer verlief.
Lig verstrooi, met glans getooi: Wenen word snags eers mooi. |
|
Kyk tog rond in Wenen as die blomme bloei
hoe die jong klomp onder 'n sering staan.
Elke aand sien jy hul almal daar saam,
waar hul sing terwyl die lig taan.
Almal is so bly, want as die donker kom
gaan hul saam daar op die Prater wandel.
Daal die skemer neer, sien hul mekaar daar weer
en elkeen loop verlief saam met 'n ander. |
|
Mooi om te aanskou, is elke Weense vrou
Maar fatsoenlik, streng is elke vlinder.
Stap hul saam met jou bly dit hul hinder,
want die mense sal glo skinder,
Maar nooi jy die Weense vrou en vra dat sy
in 'n koets alleen saans met jou rondry.
Dan sê niemand nee, hak by jou in gedwee,
deel Weense soene uit en maak jou hart bly. |
|
|
|