Die gratis Afrikaanse speltoetser vir Microsoft Office 2000/XP/2003/2007 (Word, Excel, Access, PowerPoint en Outlook)

Die gratis Afrikaanse speltoetser met skryftekens vir Microsoft Office 2000, XP, 2003 en 2007:

 WSPEL-TUISBLAD

Vertalings van bekende en beminde liedere in Afrikaans.

 ALGEMEEN

 

            

Meer inligting

26 Oktober 2008: Let asseblief daarop dat hierdie blad eers later bygewerk sal word met die nuwe WSpel 10 se verbeterde funksies.  Dit wat tans hieronder volg is WSpel 9 se werking gewees.

In WSpel gaan u woorde teëkom wat in geen woordeboek verskyn nie maar wat wel daagliks deur mense gebruik word.  Geen woordeboek kan alle woorde weergee nie, omdat 'n woordeboek wat dit probeer doen o.a. te duur sou kos.  Ons raai mense nogtans aan om 'n goeie woordeboek vir verwysing te gebruik.  U kan gerus, as Afrikaans en Standaardafrikaans se behoud vir u belangrik is, Dalene Müller se boek Skryf Afrikaans van A tot Z aanskaf.

WSpel plaas diakritiese skryftekens outomaties op alle woorde, behalwe op daardie woorde waar u 'n keuse het, soos se/sê, bere/bêre, boe/boë, gele/gelê, hoe/hoë, kamee/kameë, sal/sál, weet/wéét omtrent/omtrént, Marietta/Mariëtta, Kotze/Kotzé, Muller/Müller, ens.  U tik slegs 'n q (Q) vas aan die woord as u die woord met die skryfteken benodig.  Ons noem dit die q-woorde.  As 'n woord, veral in die geval van name en vanne, nogtans nie verander nie, regsklik daarop.  As u dit nie in die aanbevelings vind nie, voeg dit dan self by met die Add-funksie in die speltoets.  Neem kennis dat as u vanne tik wat met le begin soos Le Grange, mag die le soms eers verander in lê, maar sodra u die res van daardie vanne byvoeg verander die lê weer na le.  Enkele woorde benodig meer as een q.  Kyk na die plakker (in WSpel-dokumente) vir nadere inligting.  Druk dit en plak dit op u rekenaarskerm se raam.  U gaan dit min benodig aangesien daar in Afrikaans slegs drie woorde is wat u heelwat mag gebruik en wat meer as een q benodig.  'n Woord soos leer, leerq vir lêer en leerqq vir leër, is een daarvan.  Verwys na die plakker vir die enkele ander woorde.  U hoef nou ook nie meer seq te tik om sê te kry nie.  U tik voortaan altyd net se en WSpel sal weet of die woord 'n kappie benodig of nie.   Onthou om tussen sê en 'n werkwoord of bywoord 'n komma te plaas.  As u ooit 'n sin tik wat nie reg verander nie, kan u steeds die q byvoeg om sê te kry.  Soms sal die se eers na die tik van die derde woord wat daarop volg, in sê verander.  Kyk na die lêer WSpel-Opsioneel (in WSpel-dokumente).  Daar sal u vêrdere hulp kry met sê wat u met u interpunksie sal help.  As u ooit twee persoonsname met sê tussen in tik, soos Jan se Koos, moet u die q by se voeg.  As u egter Jan, sê Koos, met 'n komma na Jan tik, sal die kappie op die e geplaas word.  As gevolg van hierdie funksie om van die Alt + syferkodes ontslae te raak, hoef geen tikster of tikker (Ja die rekenaar het veroorsaak dat alle mans nou moet kan tik) meer die oë in Afrikaanse tikwerk van die teks af te haal nie.

Dikteer van briewe aan andertaliges:  Enige Afrikaanssprekende het geen probleem om te weet wanneer hy 'n q moet byvoeg om hoë en nie hoe te kry nie.  Om te verseker dat die tikwerk korrek is as 'n andertalige dit moet tik, moet dit soos volg gedikteer of geskryf word vir die persoon wat die brief moet tik:  Seq aan die voorman hy moet toesien dat al die hoeq bome afgekap word.  Die brief sal getik word en daar sal staan: aan die voorman hy moet toesien dat al die hoë bome afgekap word.  Sê vir die persoon hy/sy moet alle ander skryftekens op woorde ignoreer aangesien dit met WSpel self geplaas sal word.

Die outokorrigeerlys korrigeer nie juis gewone tikfoute of spelfoute nie aangesien WSpel dit reeds doen of die fout onderstreep.  Dit korrigeer veral daardie woorde wat in die AWS van 2002 as een of twee woorde aangedui word en soms deur mense verkeerdelik geskei of verbind word, soos: al weer, ook al, nogal, asook, ens., maar ook woorde soos Asiese wat by die tik daarvan in Asiatiese sal verander en vele meer.

WSpel sorg dat al daardie woorde soos adrenaline, margarine, ens. wat wel as 'n alternatiewe spelwyse in Afrikaans erken word, maar nie deur die AWS aanbeveel word nie, outomaties verander na adrenalien of margarien, wat die voorkeur-spelwyse van die AWS is.  Dit voorsien diakritiese skryftekens in Afrikaans aan daardie groot aantal woorde wat in baie gevalle van Frans afkomstig is.  WSpel verander sekere sinsnedes wat anglisisties of onafrikaans is soos, dit dien geen doel nie, ek wil 'n sê hê in, ek het 'n klag teen hom gelê, 'n druppel aan die emmer (nederlandisme) en bv. sekere woorde soos huidiglik, onmiddellik in goeie Afrikaans.  Dit sal in enkele gevalle 'n woord vervang met 'n meer gepaste woord.  Daar is enkele gevalle waar sekere frases en idiome wat reeds ingeburger is, nogtans na die oorspronklike Afrikaanse segswyse sal verander.  Druk dan Ctrl z om dit wat u getik het terug te plaas as u wil.  In enkele gevalle, waar u byvoorbeeld sou tik: Ek lê laag, sal 'n hele aantal  alternatiewe verskyn.  Behou slegs die gedeelte wat u verkies.  Daar kan in enkele gevalle teks verander waaraan u moet skaaf.

In WSpel tik u voortaan slegs die n om die 'n te verkry.  As u ooit die woorde n's, n'e of n'etjie tik, sal die afkappingsteken voor die n verwyder word die oomblik as u die spasiebalk druk.  As u bv. die alfabet tik en n verander in 'n, druk Ctrl z en die afkappingsteken word verwyder.  Ook die woorde soos s'n, s'ne, g'n, g'neen of h'n tik u voortaan sonder die afkapping.  Die afkappingsteken sal outomaties bygevoeg word.  As u wel die afkappingsteken by die 5 woorde gaan gebruik, gaan u twee afkappingstekens kry.  Druk dan Ctrl z en u korrek getikte woord word herstel.  As u die afkappingsteken uitlaat in gevalle waar die meervoudsvorm van woorde soos foto's, impi's, saldo's, skadu's, dit benodig, sal WSpel dit outomaties byvoeg.  Dit geld nie woorde soos ma's, pa's, wat ook mas en pas kan wees nie en ook nie samestellings met woorde soos nabyfoto's, agteroorsalto's, ens.  As u die afkappings-s in hulle uitlaat, sal die woord as foutief onderstreep word en moet dit op die voorgeskryfde wyse reggestel word.  Op die plakker sal u sien dat as u 'n opskrif in hoofletters tik en u benodig die 'n, ook in hoofletters, moet u NQ tik en dit sal dan in 'N verander.  As u ooit slegs die n op sy eie wil hê, moet u net nadat die spasiebalk gedruk is, Ctrl z druk en die afkappingsteken sal verwyder word.

Koppeltekens wat u uitlaat, sal in baie gevalle deur WSpel in heelwat woorde, soos bv. Suid-Afrika, Wes-Kaap, binne-in en ook tussen alle woorde soos lag-lag, sit-sit speel-speel, ens., ingevoeg word.  Aangesien 'n koppelteken in 'n speltoetser nie as 'n letter beskou word nie, het u die keuse om baie lang woorde terwille van leesbaarheid te skei en dit sal nie as foutief aangedui word nie.  (Die AWS erken dit ook).  WSpel gee hierdie woorde as een woord aan omdat nie almal die koppelteken sal gebruik nie.  Sekere woorde kry weens die opeenhoping van klinkers altyd 'n koppelteken.  Ook hier is sekere van hierdie woorde leesbaar sonder die koppelteken.  As u  twyfel, kan u die woord aaneen tik en daarop klik.  Tik alleenouerpa en klik daarop.  Die woorde alleenouer-pa verskyn in die aanbevelings maar ook alleenouer pa omdat die toetser hierdie twee woorde ook as twee enkelwoorde in sy woordebasis het.  Sekere woorde soos alleenouer pa, sal as dit weer los getik word, outomaties van 'n koppelteken voorsien word.  Daar is heelwat woorde in Afrikaans wat slegs los geskryf kan word, maar as die woord uitgebrei word, word dit aanmekaargeskryf.   Voorbeelde is lang afstand - langafstandatleet, kort termyn - korttermynoplossing, lang termyn - langtermynversekering,  twee jaar - tweejaarkursus, breë blaar - breëblaaronkruid.  Dan die groot aantal woorde wat met hoë en lae begin soos hoë digtheid, hoë frekwensie, hoë gehalte, hoë graad  hoë inkomste, hoë profiel, hoë kwaliteit, lae koste, lae gehalte, lae inkomste, om net 'n paar te noem.  Sodra dié woorde aanmekaar geskryf word, moet daar 'n byvoeging of koppelteken kom.  As u al hierdie bogenoemde woorde en nog baie meer, wat normaalweg as twee woorde bestaan, in WSpel as een woord tik en die spasiebalk druk, sal WSpel outomaties 'n koppelteken byvoeg om aan te dui dat u op die woord moet uitbrei.  Dit sal kinders en andertaliges laat agterkom dat hulle verkeerd spel as hulle sou tik, die motor jaag teen 'n hoespoed.  U kan deur Ctrl z te druk die koppelteken verwyder en uitbrei op die woord, u kan die koppelteken een spasie aanskuif om 'n afstandskoppelteken te word of u kan die koppelteken as 'n leesbaarheidskoppelteken behou veral in gevalle waar daar 'n opeenhoping van klinkers mag wees. (AWS - Reël 14.26, Opmerking (f) het betrekking.)

Syferkodes vir hoofletters was altyd 'n nagmerrie omdat die kodes vir die kleinletters nie vir die hoofletters gegeld het nie.  Met WSpel kan u nou ook van hierdie syferkodes vir hoofletters vergeet.  Tik opskrifte in hoofletters en klik regs op die woorde wat onderstreep is en skryftekens benodig, bv. DIE MORESTOND.  U sal die woord in hoofletters met sy skryfteken(s) altyd in die aanbevelings vind.  Klik daarop en plaas dit sodoende in u teks.  As u ooit die woord, Jesus in 'n opskrif in hoofletters tik, sal dit weer in kleinletters verander.  Klik op Ctrl z om u oorspronklike woord in hoofletters te herstel.  Soortgelyk sal die 'n, as u hoofletters gebruik verander na 'n kleinletter.  As u Ctrl z gaan druk, gaan u 'n verander in 'N met die verkeerde afkappingsteken.  U moet NQ tik het om 'N te kry.

Afkortings van woorde sal óf as foutief onderstreep word óf van punte voorsien word by die versuim om dit te tik.  Dit geld alle drieletter-afkortings, soos d.w.s., a.g.v., m.a.w., ens.   U kan dit egter doelbewus as dwsq tik as u weer die volle frase verlang.  Ook afkortings soos s.sers. en b.nw., waar twee punte benodig word, kan aaneen getik word en WSpel sal dit outomaties korrigeer.  In die WSpel-dokumente kry u 'n volledige lys van hierdie afkortings (Woordelys van afkortings.doc).  Kommas sal tussen hulpwerkwoorde soos het, is, kan , kon, mag, moet, sal, sou, gevoeg word as u versuim om dit te tik.  Kommas sal ook tussen sekere werkwoorde en hulpwerkwoorde outomaties geplaas word as u dit nie tik nie.  By vanne met voorvoegsels soos de, du, le, la, van en von, waar persoonsname, titels of voorletters vooraan getik word, moet die voorvoegsels soos de, du, ens. altyd met kleinletters getik word as u twyfel.  WSpel sal dit outomaties in hoofletters verander waar nodig.  Die van op sy eie word altyd met 'n hoofletter getik soos:  Roep asseblief vir Du Preez/Van der Berg.  Titels sluit in dr/dr., ds/ds., me/me., mej/mej., juffrou, mev/mev., mnr/mnr., prof/prof., genl./generaal, landdros, regter, oom en tannie.  Die titels kan ook voluit geskryf word.  Wees bedag daarop dat as u ooit 'n sin gaan tik soos, Genl. Van Tonder was 'n generaal van die ou Suid-Afrikaanse weermag, sal daardie tweede van wat u weer na generaal gaan tik ook in 'n hoofletter verander.  Sodra u die volgende woord tik, sal dit weer in 'n kleinletter verander.  Die punte is destyds op aandrag van die poskantoor na die titels en tussen voorletters verwyder omdat dit hulle sorteermasjiene, wat gebruik is toe die poskodes in gebruik gekom het, blykbaar verwar het.  WSpel plaas die punt outomaties na die afkortings van titels wat op briewe gebruik word as u dit nie tik nie.  Dit verminder die grootte van die makro's wat vir WSpel geskep is.  Hierdie titels word in die AWS se lys van afkortings van punte voorsien, alhoewel die alternatief sonder die punt volgens die AWS steeds aanvaar word.  In die WSpel-dokumente kry u ook 'n volledige lys van afkortings vir diplomas, grade en sertifikate (Woordelys - Dipl., Grade, Sert.doc).

As u na 'n persoonsnaam voor vanne tik wat met le begin, sal die le soms eers in verander en sodra u die res byvoeg soos bv. Grange, sal die weer outomaties le word.

Sekere trappe van vergelyking het ook alternatiewe uitgange en ander gebruik slegs die woorde meer en mees.  Tik die woorde trapaq tot by trapwq as u twyfel omtrent die trappe van vergelyking van 'n woord.  Die letter wat u na trap tik moet die letter wees waarmee die woord begin.  Druk altyd Ctrl z om die teks uit u dokument te verwyder.

Let Wel:  Reël 10.2 (c) van die AWS van 2002 lui:  Ter wille van die tradisie word ver naas vêr erken.  WSpel gee dus voorkeur aan die eintlike korrekte spelwyse, nl. vêr en verbindings daarmee.  Die woord môre mag ook sonder die kappie geskryf word.  WSpel plaas die kappie egter outomaties op môre en verbindings daarmee, omdat al die mense wat ons geraadpleeg het, aangedui het dat hulle dit steeds verkies.

Woordafbreking word nie aanbeveel nie, aangesien dit ook eiename en plekname afbreek.  As u dokument klaar getik is, kyk of daar reëls is wat baie uitgerek lyk en verdeel dan slegs die eerste woord(e) in die begin van die daaropvolgende reël(s) wat gewoonlik 'n baie lang woord sal wees, deur die loper te plaas waar u die woord wil afbreek en links te klik.  Druk Ctrl en tik die koppelteken waar u die woord wil verdeel.  Moenie koppeltekens self fisies sonder die druk van die Ctrl-toets tussen lettergrepe intik nie.  Gedeeltes sal as aparte woorde beskou word en as foutief onderstreep word en sal nie weer een woord vorm as iets daarvoor getik word nie.  Die volgende is 'n  praktiese voorbeeld:  Die hof het egter in dié besondere geval eenparig besluit dat die aanspreeklikheidsbegrensingsmaatstaf ....  Kyk hoe uitgestrek is die woorde geplaas.  U sal in so 'n geval altyd die lang woord wat dit veroorsaak het, onmiddellik in die volgende reël, presies soos hier, vind.  Verbeter die sin soos volg deur 'n koppelteken op die voorgeskrewe wyse te plaas tussen begrensings en maatstaaf:  Die reël lyk daarna so: (praktiese voorbeeld):  Die hof het egter in dié besondere geval eenparig besluit dat die aanspreeklikheidsbegrensings- maatstaf ....  As u nou enige sinne of woorde, voor hierdie lang woord, later in u teks verminder, skrap of byvoeg, mag die lang woord verskuif en outomaties ontslae raak van die koppelteken om weer een woord te vorm.  U moes egter die koppelteken geplaas het, soos hierbo beskryf is.

Ongeag van wat hierbo gesê is oor die afbreking van woorde, kan u as u die Afrikaanse woordeboek by English (U.S.) gelaai het en English (U.S.) as die verstektaal gekies het,  woordafbreking (hyphenation) in Word aktiveer en u sal vind dat die Amerikaners se woordafbreking perfek vir Afrikaans ook werk.  U kan dit gerus probeer en kyk of u foute kry.

Ons hoop u het net plesier met WSpel en ontvang graag nuwe woorde wat u mag teëkom of selfs as u dalk op 'n spelfout in WSpel afkom.  Afrikaans is 'n taal van woorde en wees verseker, selfs met WSpel se groot woordebasis, is alle woorde in Afrikaans steeds nie in hom opgeneem nie.  In hierdie uitgawe is daar meer as 412 000 woorde.  Persoons- en plekname is ingesluit.

In die voorbeeld hieronder is "leer" met 'n "q" agteraan getik. Al die woorde wat behalwe vir 'n skryfteken identies is, word vertoon. Klik dan net op die korrekte woord. In hierdie voorbeeld is daar bloot met die muis regs op die foutiewe woord geklik.
 
WSpel , Posbus 50200, Mafikeng-Suid, Noordwes, 2791, RSA.   E-pos: wspel@lantic.net

Kopiereg © 2002-2008 Johan & Elfia Visser.

Medewerker: Thomas Ellis. Alle regte voorbehou.

October 26, 2008    RSA